Search
  • Stephan van Heerden

Onbewuste filosofieë uit kinderdae kan soms ‘n volwasse lewe verwoes

Updated: Jun 18, 2020

Martin het tydens terapie ontdek hoekom hy herhaaldelik met sy motor bots, sy verhouding met sy meisie skielik sonder rede beeindig het, homself sny en so diep ontevrede is met die lewe.

Gedurende sy laerskool-dae het hy sy ouers voortdurend hoor rusie maak - oor geld. In daardie tyd het sy welgestelde oom hom baie beïndruk, want hierdie oom het 'n rooi Ferrari gery, was skatryk met sy eie regsfirma en boonop het hierdie oom se huwelik met sy vrou so gelukkig gelyk. "Ek het begeer om wanneer ek groot is soos my oom te wees."

"Op ‘n dag, terwyl ek terug stap huistoe, het ek besluit ek sal eendag presies soos my oom maak: Ek sal ook ‘n prokureur word en baie ryk word. Dan sal ek my rooi Ferrari koop en eers dán sal ek vir my ‘n vrou soek, want dan sal ek en my vrou nooit baklei oor geld soos my ouers nie.”

Martin het sy besluit die reels vir sy lewe gemaak, sy ongeskrewe, onbewustelike filosofie. Toe sy prokureur-studies byna voltooi is en die laaste eksamen voorlê, gebeur die eerste motorbotsing op pad na die eksamenlokaal en hy kan nie sy toets skryf nie. En so ‘n tweede botsing en weereens staan sy studies doodstil. Na 'n tyd kry hy weer gefokus op sy studies, maar word hy met ‘n gebreekte been gehospitaliseer na ‘n derde botsing.

Hou iets hom terug van die voltooiing van sy studies?

Intussen los Martin die een oulike meisie na die ander, elke keer net wanneer hul verhouding baie gelukkig is. Om nie eers te praat van die donker depressie en en self-snyding nie. Sy lewe word ‘n gemors.

Die rede vir die botsings, liefdesprobleme en depressie was omdat Martin nie waarlik ‘n prokureur wou wees nie. Hy wou net 'n ryk prokureur word om nie eendag soos sy ouers te wees nie. Telkens sodra sy studies in die regte naby voltooiing kom, het die “onvoltooide legkaart” oor wie hy werklik wou wees en dit wat hy as tienjarige vir hom self gesweer het hy sal wees, op die voorgrond getree en motorbotsings veroorsaak, om te verhoed dat Martin iets word wat hy nie regtig wil wees nie. Hy het sy meisies gelos omdat die reels in sy onderbewuste voorgeskryf het hy moet éérs ‘n prokureur word, dán ryk word en sy rooi Ferrari koop, en éérs dan sy vrou soek.

Martin het ook tydens die terapie ontdek wie en wat hy regtig in die lewe wil wees. Na afloop van sy terapie het hy sy studies in die regte gestaak, sy ou Corolla weer waardeer en ‘n karavaan gekoop en na die kusdorp van sy drome verhuis waar hy ingeskryf het vir ‘n ambag as loodgieter. Want sien, tydens die terapie kon hy diep in sy onderbewuste weer sy welgestelde oom ontmoet, vir hom dankie sê omdat hy daar was en hom vra om nou sy hand te los, want hy is groot en weet wie en wat hy wil wees. Hy het ook sy liefdeslewe weer heelhartig opgeneem, die lewe weer vierkantig in die oë begin kyk en nooit terug gegaan vir sy elektriese skok-behandeling soos sy psigiater hom dringend aanbeveel het nie.

Watter “onvoltooide legkaarte” in jou onderbewuste het dalk ‘n houvas op jou? Jy kan dit met behulp van Gestalt Proses Terapie ontdek, voltooi en weer positief fokus op jou toekoms.

.


16 views0 comments